Tuesday, July 23, 2013

Die aarde is plat

Maandag die 22ste. Ons is vroeg oggend reg. die groot kasteel op die kop oorkant die rivier  lyk manjifiek in die vroee oggend son. Rondom Budapest is die wereld meer bergagtig. Na sewe val ons in die pad sonder ontbyt. Die eerste stukkie is weer pragtig langs die rivier wat deur 'n kloof loop. 'n Entjie verder wys die bordjie reg rivier se kant toe, alweer 'n verkeerde aanwysing? Ons dwaal 'n bietjie rond, ek vra waar is die dorp op die aanwysing en die man wys oorkant die rivier, nou eers sien ons die lewensgroot ferrie op die kaai. Wanneer vertrek dit; oor twee minute. Wat 'n gelukkie. Oorkant ry ons weer lekker langs die rivier tot by Ezsergom. Daar is 'n manjifieke basilika teen die berg. Die aanwysings is weer onduidelik maar 'n ouer Duitse paar op gepakte fietse gee vir ons goeie raad. Hulle kom van Bratislava in Slovakye waarheen ons op pad is. Ons moet oor die rivier in Slovakye en dan al langs die rivier op tot by Bratislava. Halfpad oor die brug kondig die borde aan dat ons in die republiek van Slovenska is en ons ry dèur Sturovo. Geen bordjies in Slovenska! Ons hou maar in 'n rigting wat ons dink sal ons by die rivier bring. Na so 15km van deur dorpies en landerye ry kom ons by die rivier en met die tweede probeerslag kry ons 'n lieflike pad net langs die rivier. Die deel was duidelik onder water met die vloed. Ons beland weer op die wal langs die rivier en vorder goed. 30, 40 km, nog geen ontbyt. Ry die man dan op water en genade! Na 60km kom ons by 'n mooi klein dorpie waar ons by  'n klein winkeltjie brunch koop en heerlik op 'n bank langs die rivier eet, die son bak nou al erg warm teen 35 grade. Weer oppad kom ons by 'n groot dorp, Komarno waar ons stilhou by 'n groot winkelkompleks met 'n groot Tesco. Ek probeer simcard koop maar  niemand verstaan my nie. Die aarde is so plat soos 'n panne koek, dis weer ons en die grondwal, net dis nou grondpad met gruis klippies wat ry moeilik maak. Laat middag kom ons by Medvedov, ons water is op en ons moet stop.  ons kry 'n fietsende ouer Australiese paar wat nou in Hlolland bly waar die vrou oorspronklik vandaan kom. Hulle se so 40km verder moet ons weer rivier oor, beter daardie kant na Bratislava. Na 10km kom ons by 'n groot mensgemaakte dam in die rivier. Daar is groot sluise waar die bote moet deur. Ons kyk hoe twee massiewe rivier bote wat rivier op ry in vaar en die water vlak stadig styg in die sluis. Op die wal raak ons aan die gesels met 'n Italiaanse man met sy Noorweegse seun. Ons moet hier oor die rivier. Die volgende 20km is op die wal van die mens gemaakte kanaal in die rivier wat die water op dam vir die hidroelektriese skema tussen Hongarye en Slovakye. Met die wegtrek slag skaaf my agterwiel en ons merk dat dit erg buckle, 'n af speek, o wee. Ons besluit om maar so aan te ry, op spoed mis die wiel die raam net. Na sewe kom ons by die begin van die kanaal, nog 'n wal in die rivier met groot sluise waar die water na die oorspronklike loop in die rivier gereguleer word. In die middel is 'n witwater rafting baan gebou en 'n klomp manne is besig om of met rubber ducks of enkel kanos op en af te oefen in die rapids. Ons ry rond om kamplek te soek aan die oorkantste wal maar kry nie regtig 'n lekker plek nie. Ons besluit om maar eers iets te ete te kry by 'n boot restaurant in die middel van die damwal. Al amper klaar geeet, vra Stefan of hulle weet van akkomodasie, daar is kamers op die boot beskikbaar teen 15 Euro per persoon, wat 'n verligting. Stefan en ek deel 'n lekker kamer met badkamer reg op die water. Die ete werk bietjie duurder uit as wat ons gebaken het maar na 174km is dit seker  verdien. Ons het die heel dag net 200m geklim en dit was seker alles die eerste rukkie.

1 comment:

  1. For most up-to-date information you have to visit the web and on world-wide-web I found this site as a best web page for most up-to-date updates.




    elastomer bearing pads

    ReplyDelete