Monday, July 22, 2013
Ons en die gereg
Saterdag 20ste. Ons is vroeg op maar ontbyt is eers 7.30. Ek skryf blog, die hotel het wifi en Stefan gaan trek Hongaarse geld, geen kredietkaarte by die hotel nie. Dis buffet ontbyt en ons pak behoorlik weg om waarde te kry vir ons geld. Dis al amper nege voor ons wegkom. Stefan reken vandag kan 'n rusdag wees, ons hoef net 150km te dien! Ons is nou af van die roete en het geen kaart vir Hongarye nie. Die beste is maar rivier se kant toe, nadat ons bietjie agter ons neuse aangery het, kom ons by 'n teerpad wat lyk asof dit na Baja gaan,die vlg. groot dorp. Stefan sit voet in die hoek en ek byt vas agter. Dit voel vir my Stefan kry ekstra energie die vroeg oggend skof en dan weer die laatmiddag skof. Na so 'n uur se ry kry ons die fietsry teken by 'n groot kaart. Terwyl ons nog probeer uitpluis waar op die kaart ons is, kom die twee jong Dene daaraan. Hulle het net buite die eerste dorpie gekamp. Ons spring almal saam weg, weer op die grondwal, die slag erg stowwerig. Die een Deen skop af met 'n bose spoed met Stefan agterna, en ek moet trap om by te hou. Met die eerste die beste geleentheid vat Stefan voor, twee jong Deense snuiters sal hom nie weg ry nie! Dis die laaste sien van die Dene. Dis ons en die wal vir kilometers aan een. Hulle is besig om dele te sement maar die lorries het die pad so gery dat ons ploeter in sagte stof grond, harde werk. Eindelik bereik ons Baja en stop by die eerste winkel vir lafenis, dis bloedig warm. Weer maak ons die fout, as ons weer ry kom ons by 'n pragtige deel van die dorp by die rivier. Ons kry 'n Italiaanse paar fietryers wat net van Budapest kom. Hulle het ook die fantastiese Duitse boekie, Donau Radweg, met al die gedetaileerde kaarte. Hulle wys vir ons die roete wat hulle gevolg het. Weer voort al op die wal, boomryk aan die rivier se kant met so nou en dan 'n gesig op die rivier, landerye aan die ander kant. So vier uur kom ons by 'n oopte en sien weer die rivier in al sy glorie. Daar is 'n ferrie oorgang, swemplek, en baie plesier bote op die water. Ons swem te lekker, eet roomys en kyk hoe die groot vragbote verby vaar. As ons weer ry, kom ons gou by 'n klein dorpie maar anderkant geen aanwysings!! Ek onthou die Italiane het gepraat van Kalocsa en ons mik soontoe. Dis 'n groot dorp en daar is so wraggies waar 'n Spa wat baie goed is vir ons, net dis al vyf uur en toemaak tyd op 'n Saterdag middag. Ek kry 'n kaart van Hongarye by 'n garage en dit help darem om te wys waar ons is. Weer op die pad is al raad om op die besige R51 hoofpad na Budapest te ry. Ek is sielsongelukkig, het nie al die pad gekom net om op 'n besige hoofpad te fiets met karre wat vebyjaag. Die wind is sterk van voor maar Stefan trap en ek klou vas. Daar is 'n aanwysing na 'n dorp met die naam Fokto-Kis-Fokto, dis net soos ek voel, kis en fok toe! Groot my verligting as ons so 20km verder by die volgende dorpie weer die aanwysings optel, weer heerlik langs die rivier met 'n goeie teerpaadjie. Ons besluit om te kamp, moet darem opmaak vir die onkostes van die duur hotel. Dis so 7 uur as ons by Solt kom, al wat winkel is, is toe op die Saterdag middag en ons besluit om pizza te eet by 'n restaurant waar ons lekker op die stoep kan bier drink. Daar is selfs WiFi ook. Met alles is dit al sterk skemer as ons wegkom, net buite die dorp is daar weer 'n groot kaart en dit wys ons kom weer by die rivier verder aan waar ons moontlik kan kamp, maar hoe ver is nie duidelik nie. Ons trap en trap en sit maar Stefan se rooi flikker liggie op my rugsak as ons by 'n besige pad kom. O wee, 'n polisiekar langs die pad, ons eerste kennis making met die reg. Die poliesman is vriendelik; "just a small problem, you are not riding on the bicycle lane and you have no lights". Ons wys hom summier die rooi liggie en ek haal my kopliggie uit en sit dit op. die poliesman verseker ons die rivier is net voor. 'n Entjie verder kom ons by 'n fietspaadjie wat lyk asof dit by die rivier is maar ons het nou weer die aanwysings verloor. Daar is 'n plaat stilstaande water maar die oomblik as ons stop oorval 'n leerskare muskiete ons. Die teerpaadjie hou op en ons besluit om sommer net daar tent op te slaan, gelukkig is dit helder maanskyn. Met die tente opgeslaan verg dit tegniek om so in te klim dat die muskiete nie saam in klim nie. 164km maak ons so moeg dat ons gou wegraak.
Subscribe to:
Post Comments (Atom)
No comments:
Post a Comment