Friday, July 19, 2013
Serbie op sy beste
Donderdag die 18de. Dis Mandela dag, klink nie of mense hier weet van Mandela nie, as ons se ons kom van Suid Afrika, hak hulle vas by Afrika. Na die nou tradisionel omelet ontbyt val ons so half nege in die pad, Stefan is nou al gekonfyt om sy sakerpasie agterop sy fiets te monteer, ek hoop ek kan 'n video aanheg van die ritueel. Gister het my sysakke begin los skud van die rak en skaaf teen die wiel. Stefan en ek maak 'n plan om die sakke vas te trek met 'n band wat ek saamgebring, dit werk baie beter. Tydens ontbyt praat ons finansies en probeer onthou wie het vir wat betaal, ons deel maar die uitgawes so tussen ons. Sover spandeer ons omtrent R500 per dag, te goed om waar te wees. Ons ry agterpaaie weg van die rivier maar deur pragtige landrye, voel asog die hele Serbie bewerk is. Ons ry deur baie klein dorpies.By Slamkamen is ons weer naby die rivier. Teen 11uur stop ons by Cortanovci oppad na Novi Sad. Die Duitse egpaar het suid van die rivier gehou verby Novi Sad maar dit beteken deur 'n stukkie Kroasie gaan, onmoontlik vir ons sonder visums. Ons volg maar die duidelike aanwysings styl bult op dan 'n salige afdraende na 'n pragtige dorp met baie ou geboue, Srem Karlovci waar ons geld trek. Naby Novi Sad ry ons weer in beboude dele dan oor die rivier na Novi Sad. Die rivier is geweldig indrukwekkend, 'n groot ou fort bewaak weer die ingang tot die stad. Gelukig is die aanwysings duidelik en oor die rivier hou ons op die noordelike oewer, gou kom ons weer op die wal langs die rivier, meestal teer maar so hier en daar grondpad, erg vir die boudjies. Dis al so drie uur toe ons langs die rivier stop waar 'n paar mense visvang. Ons koel heerlik af in die rivier, Stefan sommer weer met alles aan, ek darem die keer in my fietsry broek. Die rivier vloei sterk hier, 'n massiewe plesierboot ry gemaklik stroomop. Ons eet oorblyfsels van die vorige aand, 'n klein bootjie kom van die oorkant en word volgepak met 'n hele gesin vir die terugreis. Dis nou weer lekker op die wal al langs die rivier tot naby Bac Palanka waar ons weer op die groot pad kom. Ons stop by een van die menige padstalletjieswat waatlemoene verkoop. Ons besluit om een te koop en sommer daar te eet. Die jong man wat die stalletjie beman kan so bietjie Engels praat en hy bring stoele, mes en 'n bankie en ons smul heelik aan die waatlemoen al geselsende. Die longeling is net uit skool, so klink dit, wil nie boer soos sy pa nie, wil graag elktrisien word, het twee broers wat in Holland werk waar hy ook al gaan werk het. Hy klink negatief oor Serbie, se daar is nie 'n lewe vir hom nie, sy pa kom so nou en dan loer wat aangaan en kom dan se daar moet gewerk word en ons kry die boodskap. Gelukkig neem die pad ons verby Bac Palanka, die lorries ry lewens gevaarlik verby ons. Verder deur Karadordevo en by Mladenovo koop ons weer voorraad. Ons stop sommer langs die grondwal waar daar 'n moerasagtige area is nog weg van die rivier waar mense visvang, pa en seun van die wal af, ander van bootjies. Dit is so rustig langs die rivier en ons eet sommer sittende in een van die bootjies. Ons begin nou duidelik die effek van die onlangse vloede sien, Stefan reken die water merk op die bome is 5 meter bo die huidige watervlak, die wal het sy werk gedoen. Donker kom ons aan by Backo Novo Selo, weer die gewone gebare vir slaaplek eers by twee tiener meisies op 'n scooter en dan by 'n groep mans wat buite rondstaan. Sommer net oor die pad is 'n baie vriendelike tannie wat ons met ope arms ontvang. Dis eenvoudig, 'n kamer in die huis langs die kombuis. Haar seun word geroep met selfoon, hy kan so bietjie Engeks praat en ons beklink die transaksie. Dis al na nege wanner ons afgesaal en skoon gebad is. Ons dorste neem ons na die drinkeplek net langs die tannie se huis waar 'n klomp mans dominoes speel op die stoep. Sjoe maar die Serbiers kan rook! Ons slaap salig, in die middel van die nag raas die manne langsaan nog. Ons het 150km gedoen, sewe uur in die saal teen 21km per uur.
Subscribe to:
Post Comments (Atom)
No comments:
Post a Comment