Tuesday, July 23, 2013

Van die sublime na die ridiculous en weer terug na die sublime

Sondag 21ste. Ek het 'n slegte nag tussendie muskiete, my matraslose le en vreeslike krampe in my regter onderbeen, so erg dat  ek in die middel van die nag  moet tent uit en eers bietjie rondloop. Met die inklim slag is daar weer 'n klompie opportunistiese muskiete wat saam inklim. As die son opkom, is daar 'n klomp versadigde muskiete binne in die tent, die ander steeds afwagtend buite op die tent. Stefan slaap wraggies tot half sewe,niks stuur sy slaap nie. Terwyl Stefan pak,ry ek 'n entjie terug,kry die aanwysings en die gemoedsrus dat ons op die regte pad is. Ons ry grondpad tot ons langs die rivier by 'n idilliese dorpie kom met huisies al langs die rivier, elkeen met eie jetty waar al wat leef en beef visvang. Geoordeel aan die karre wat buite staan en die grote van die omies se boep pense moet dit 'n ryk mans vakansie plek wees. Die paadjie is sleg en Stefan reken die mense moet minder visvang en eerder die pad regmaak. Ons wonder hoe die vloed hier gemaak het. Ons stop by 'n kafeetjie vir water en die man verduidelik ons is langs die klein Donau. Die regte rivier loop parallel verder, die vloed was 10 meter hoog daar. Ons kom by  Domsod waar die aanwysings weereens verdwyn in die dorp. Ons koop ontbyt en die slag gaan sit  ons heerlik by die rivier. Al genade verder is op die besige R51, gladnie goed vir my siel nie. Dis nog so 50km na Budapest en ek probeer vrede maak met die feit dat ons maar so Budapest toe sal ry. Maar 10km verder probeer ek vir oulaas om weer by die rivier te kom, links af vir so 3km tot by die rivier maar geen aanwysings. Die restaurant man verduidelik so dat ek darem verstaan ons kan langs die rivier op, eers met grondpad dan weer teer. Ons ry ons self vas in 'n landery en moet bietjie bundu bash. As ons onsself weer vasry, vat ons maar weer die pad terug na die gehate R51. Ek waardeer Stefan se geduld met my, ek dink hy wil net in Budapest kom, mak nie saak watter pad nie. Naby Budapest moet ons kies tussen die snelweg of 'n ander pad. Ek wil op die kaart kyk, maar geen kaart nie, vergeet by die laaste vra plek! Ons vat maar die snelweg met erge verkeer en kom Budapest binne van wes na oos. Naby die middestad stop ons by 'n garage vir roomys en 'n nuwe kaart. Die baie behulpsame garageman geevir ons 'n goeie kaart en verduidelik hoe ons by die rivier kan kom. Dis nie ver nie, die stad is manjifiek, die rivier groot in al sy glorie en op die koop toe kry ons weer die roete aanwysings! Ons geniet die aktiwiteit op die rivier, groot plesier bote en rivier barges. Ek kry 'n openbare toilet maar die tannie by die ingang wil 70 cent he (0.7 euro).  Ek het net twee euro, duurste piepie nog. Ons ry maar so stadig al langs die rivier op en verlustig ons in al die geboue weerskante van die rivier. Ons verloor natuurlik weer die aanwysings. Na 'nstop by 'n winkel vir lafenis, vat ons maar 'n besige pad na die volgende dorp, Vac waar ons by die rivier uitkom. Dis 'n ongelooflike lekker somer Sondagmiddag en die rivier strand is vol mense wat swem, jetski of boot ry. Ons klim af en swem heerlik. Dis al sewe uur en nog tyd vir 'n laaste skof, die roete bordjies het weer hul verskyning gemaak ens ry 'n pragtige boomryke roete langs die rivier. Daar is baie mens op fietse wat ry vir oefening en plesier. Op 144km ry ons verby 'n kamplek by Nagymaros. Stefan wil graag 150 vol ry maar dit klink nie ifdaar slaapplek verder is nie. Vir R150 elk kan ons 'n kamer deel, net groot genoeg vir twee opstapel beddens met buite badkamers, maar gied genoeg vir ons. Ons treat onsself ook vir bier en ete by die restaurant. Ek slaap baie beter as die vorige nag, daar WiFi en ek kan skype en blog.


No comments:

Post a Comment