Saturday, July 27, 2013

Die trein en vliegtuig reis terug

Vrydag 26ste. Stefan en ek is albei vroeg op, ons maak  vir oulaas sommetjies en klaar die finansies uit. Klaar gepak,  ry ek 'n entjie saam met Stefan tot by die Ilnn revier wat hy sal volg na Zurich, nog omtrent 500km, voorwaar 'n uitdaging. So neem ons albei afskeid van die Danube of Donau (soos dit hier bekend staan), ons metgesel vir ons so lank. Dit is voorwaar 'n magtige rivier, soms destruktief soos wat die onlangse vloede getoon het, maar meestal 'n lewensaar vir so baie mense en soveel lande. Ek ry vir oulaas nog op die cobblestone paadjies deur die ou deel van Passau en op 'n styl afdraende val wraggies, my eerste val van die toer. Ek moes darem my reputasie gestand doen, 'n nerf af knie die resultaat. Op die stasie koop ek 'n Newsweek, te lekker leestof vir die dag. Ek kry die trein nege uur na Regensburg. Dis ongelooflik hoe die openbare vervoer ingerig is vir fietsryers. In elke kompartement is daar 'n plek vir fietse en rekbande om die fietse vas te hou. Daar is 'n hele paar ander fiets toerders ook op die trein. As die kondukteer verbykom, besef ek gelukkig dat ek by Plattling moet oorklim, die eerste van vier, elke keer moet ek my fiets met sakke en al af by die trappe en weer op na die nuwe platform. By Regensburg moet ek 90 minute wag en in die stasie winkelsentrum koop ek 'n lekker hoender en slaai maal, wat'n fees. Op pad na Regensburg klim daar 'n fietse jong dame met hoehak skoene en 'n berg fietsop die trein, waar gesien in Suid Afrika! Behalwe vir die Newsweek wat onder andere 'n artikel het oor kreatiewe maniere om roomys te maak ( gaan dit beslis probeer) slaap ek leker so al sittende. Op pad na Ulm klim daar 'n paar op met 'n tandem. Ons raak aan die gesels, hulle kom van Frankryk, dis hul heel eerste fiets toer. Hulle het skaars geoefen voor die tyd,die tandem het hulle in die huis gestoor vir 'n vriend en dit sommer gebruik. Hulle het in Donaueshingen by die oorsprong van die Danube begin maar nie heeltemal Passau gehaal nie weens fiets probleme. Nogtans het hulle dit baie geniet en sal beslis weer toer? By  Ulm is die trein na Schaffhausen laat en ek begin my bekommer  dat ek die aansluiting  na Zurich sal  mis. Stefan se nefie, Hugo van der Merwe het laat weet hy sal my op die stasie kom haal. Hugo werk vir Google in Zurich, al vier jaar. Ons ry langs die Boden see verby, pragtige somer middag. Die trein is 'n halfuur laat by Shaffhausen maar die volgende trein na Zurich staan reg om te vertrek, en ek maak dit net trap af en op met die fiets. Ek kan darem vir Hugo sms en 19.21 ek in Zurich, stiptelik Switserse tyd soos aangedui. Hugo het my met sy fiets kom haal, hy kom reg sonder kar in Zurich, die openbare vervoer is heel voldoende. Ons fiets na Hugo se woonstel en hy ontvang my gul is sy blyplek. 'n Bietjie later daagsy suster Anneke met haar Hollandse vriend, Pieter Wiiteveen op, hulle is saam met vakansie en die plan is dat hulle met Hugo en Stefan die week in Switserland sal deurbring, naruurlik fietsry! Ek bring 'n heerlike aand saam met Hugo, Anneke en Pieter deur in Zurich, ons stap sommer na die meer, neem 'n boot na middestad waar ons heerlike pasta eet op die sypaadjie voor die restaurant. Die roomys plek maak ongelukkig net toe as ons daar aankom. Dan met die tram  tot bo op die bult by die universiteit met'n asemrowende uitsig oor die beligte kerk torings van Zurich. Ons ry weer tram terug huistoe, wat 'n fantastiese and met sulke vriendelik mense! Ek slaap weer op 'n matras, heerlik! Saterdag oggend is dit roereiers vir ontbyt en dan pak. Hugo gaan aan 'n driekamp deelneem laterdie dag, die swemdeel, hy het duidelik van sy oom se gene! Pieter bied aan om my lughawe toe te neem. Hugo het 'n fiets box waarin ek my fiets kan verpak maar die pas nie in sy kar nie. Die maklikste op die ou end is om die fiets op die fiertsrak te sit en by die lughawe die fiets te verpak. Allesloop glad by die lughawe, ons kry 'n fietsbox vir omtrent R250 gou gou is die fiets binne-in. Turkish airlines vra weer R1200 ekstra vir die fiets, moral van die storie, as jy 'n fiets het moet nie Turkish Airlines vlieg nie. Ek en Pieter drink vir oulaas iets saam, ek is ewig dankbaar vir die moeite wat hulle vir my gedoen het.

No comments:

Post a Comment