Dinsdag 23ste. Stefan probeer my wiel met die afspeke regtrek met sy leatherman en ons besluit om maar so aan te ry. Net na sewe val ons in die pad weer ontbytloos. Daar is 'n heerlike teerpaadjie al langs die rivier tot by Bratislava, baie mense wat fietsry of skate, ek is beindruk met die Slovene wat so oefening bewus is. Die paadjie neem ons reg deur Bratislava sonder verkeer, wat 'n fees. Ons ry tot op die brug oor die rivier net om darem 'n mooi uitsig van die stad te kry. Wanneer sal ons sulke fiets paadjiesin Kaapstad kry? die prioriteit is seker eers huise vir almal. Weer terug op die roete kom ons gou in Oostenryk en dadelik is daar weer aanwysings, nou is dit van geen bordjies na sommer baie, elke paal het 'n paar op wat virskillende fiets roetes aandui, wat dit ironies moeiliker maak. Ons ry weg van die rivier bietjie berg op na Hainburg deur Altenburg na Petronell-Camuntum waar 'n ou Romynse stad was. Die bordjies wys nou in verskillende rigtings en ons Èurovelo roete met 'n 6 op is nerens te sien. Ek wil links en Stefan regs net om agter te kom die paadjies kom weer bymekaar! Ek moet elke slag my sonbril afhaal om my leesbril op te sit. terwyl ons probeer besluit waar na toe, kom 'n ou omie verby geskuifel, se in Engels hy kan nie Engels praat nie, en begin dadelik met 'n lang relaas in Duits waarvan ons niks verstaan nie maar darem eerbiedig luister. As ek wegry roep Stefan my terug, ek het my sonbril vergeet op die sypaadjie, nie die eerste keer dat Stefan my red nie en seker ook nie die laaste keer nie. Ons kom by die oorblyfsels van die Romynse stad, 'n groot boog (arch) waar ons bietjie vertoef. 'n Ent verder kom ons weer by 'n klomp verwarrende bordjies, onse no 6 wys links en regs, ek dink links, Stefan regs. Dis nou Stefan se beurt om by die rivier te wil wees en ons gaan regs in 'n mooi dorpie met die naam van Wildungsmauer. Ons ry reg af rivier toe maar geen bordjies! Ons vat 'n padjie langs die rivier wat al kleiner raak tot dit net 'n enkel paadjie is, gou word dit modderig met boomstompe waaroor ons moet klim, duidelik deel van die vloed skade, ons sukkel stadig aan virpaar kilometer, dis baie mooi in die bos maar beslis nie die regte pad nie. Weer by 'n dorpie ry ons maar weer bult uit na 'n groot pad, gelukkig loop daar 'n paadjie sonder verkeer langs die grootpad. By die volgende dorp Haslau kry ons weer die bordjies, groot verligting. Ons ry weer reg af na die rivier waar ons op 'n sandpad beland, pragtig tussen die bome. Ons is nou in 'n natuur reservaat. Daar is 'n aanwysing na 'n ferrie, maar die slag is dit net 'n groot motorboot wat mense en fietse karwei. Weer is ons gelukkig, net as ons aankom is die boot daar om'n ander fietsryer oor te neem, dit lyk asof hulle net kom as hulle iemand oorkant die rivier sien. Die rivier vloei hier sterk met 'n baster stroom versnelling aan die een kant, maar die kraftige boot neem ons veiig oor om aan die anderkant vas te meer teen 'n boot restaurant. Dis nou al 62km verder, al twaalf uur en nog geen ontbyt! Ek begin besef dat teen die vlak van inspanning waarteen ons ry, so onder die 60% van maksimum hartspoed, 'n mens ver kan kom sonder kos. Op die oorkant sit ons heerlik op 'n bank en eet wat ons oor het, 'n blikkie vis en 3 rys koekies wat sorgvuldig in twee gedeel word! Deur die bos kry ons nou weer die Eurovelo 6 bordjie, nog so 30 km na Vienna (Wien). Ons is nou weer op die wal en aanvanklik is dit geteer en ons vorder goed. Maar dan word dit grond en gras en dis harde werk. Ons ry af van die wal op 'n pad langsaan maar dit neem ons weg van die rivier in 'n beboude deel in verkeer, seker al voorstede van Vienna. Ons probeer weer pad vra, derde keer gelukkig, 'n ouer omie op 'n fiets met kampgoed op ry verby, ek jaag agterna en vra pad so in die ry. Hy is Engels magtig en bied aan dat ons saam met hom kan ry sodat hy ons die weg kan wys. Gou is ons by die rivier in Wien op die regte fiets pad. Dit is vakansie, mense braai, swem in die rivier, al te vrolik. Die openbare chemiese toilette langs die rivier het die interessante handels naam; Toi-Toi. Wonder of dit enige nut sal wees vir die Kyayalitsha probleem. Ons is nie seker hoe ons die stad moet benader nie. By een van die baie brue oor die rivier, kry ons 'n Duitse paar fietsryers oppad van Praag na die Danube. Die man ry 'n vierwiel "recliner" fiets met al sy bagasie, lyk nie of hy boudjie probleme sal he nie. Op die rivierwal koop ons elk 'n hoender burger en 'n lekker opdraai roomys. Ons ry oor een van die brue en dwaal bietjie rond in die stad. Stefan vra weer pad en ons besluit om maar terug te gaan oor die rivier en koers te kry verder. Maar eers stop ons by 'n groot mark waar ons heerlike druiwe, perskes, piesangs en dadels koop. Ek los Stefan net daar en koop 'n kaart van Oostenryk en kry uiteindelik 'n nuwe simcard met lugtyd en data teen R200. Die fiets paadjie neem ons gou uit Vienna al langs die rivier. Dis wonderlike geteerde paadjies, ons vorder goed, by sewe uur het ons al 144km gery en begin dink aan slaap plek. Ons is in Tulnn en daar is wraggies 'n goed toegeruste kamplek. Teen 13 Euro per persoon duurder as Serbie, maar nog billik. Ons slaan tente op tussen 'n menigte ander fietsryers. Vandag het ons baie ander fietsryers teengekom. Die Europeers is baie goed toegerus. Dis heel gesinne wat saam ry. Peuters ry in waentjies wat pa of ma agter die fiets trek, kinders ry op fietsies saam, soms met 'n stang vasgemaak aan pa se fiets. Ons sien ook tandems wat ook twee wiel waentjies met bagasie saamtrek ( hoe lyk dit, Eve?). As ons kos gaan soek in die dorp, kry ons net 'n gerieflikheids winkel by 'n garage, ons gewone voorraad kos R200, kon maar net sowel by die restaurant gaan eet het. Nogtans smul ons heerlik aan die lekker brood wat Stefan gekoop het met kaas en sardientjies daarop. Die muskiete pla nie te veel nie, Stefan is gou in die bed, ek skryf nog blog want ek het onnodig internet tyd gekoop vir R70 vir twee uur by die kamp plek. Ons kry 'n gratis boekie by die ontvangs met gedetaileerde kaarte van Donau Radweg roete van Passau na Wien. Stefan se sonlaaier werk heel goed. Hy monteer dit elke dag op sy sakerpasie. My garmin moet elke dag gelaai word. Die sonlaaier laai nie die garmin vol nie, so ek het al gekeer in die middel van die dag as ons stop, die garmin te laai en dan weer aan die einde van die dag.


Hallo Hoffie. Ek kyk elke dag vir nuwe nuus. Dit was lekker om Woensdag sommer paar nuwe blogs te lees. Dit klink ongelooflik. Julle moet dit baie geniet. Dit is iets baie spesiaals. Dalk moet jy jou fietsrak ook op Stefan se fiets sit. Dit behoort hom stadiger te laat ry.
ReplyDeleteGeniet dit.
Hi Pa. Bly julle geniet dit! Dit klink alles fantasties, maak my ook sommer lus om weet te toer.
ReplyDeleteLaat weet hoe laat jy land Sondag.
Karien